“Moet nooit dink die deel wat jy bydrae is te klein, of te nietig om `n verskil te maak nie. Enigeiets maak `n verskil en die Here gaan dit gebruik ten goede vir sy Koningkryk.”
Dit volgens Yolandé Koen (34) `n inboorling van `n kleinhoewe op Joostenberg Vlakte, wie se hart opnuut aangewakker is toe sy by Kibwe Kids betrokke geraak het.
Sy beskryf haarself as `n familie-mens wie van jongs af `n passie vir kinders en mense het. Dit is juis om hierdie rede dat die werk by Kibwe Kids haar baie na aan die hart lê. Sy put soveel vreugde daar uit, om deel te kan wees van die kinders se lewens en te kan sien hoe Christus se liefde hulle verander.
Haar begeerte om vir ander mense te sorg, is opnuut aangewakker met die Awaken-vrouekonferensie wat sy in 2011 bygewoon het. Met groot opwinding, maar ook sonder einge rigting wou sy die “saad” wat in haar hart geplant voed. Met die gedagte dat sy hande kan neem met ander vroue wat dieselfde begeerte as sy in haar hart het, het sy nuwe hoop gekry om die begeerte in iets meer te omskep.
Min het sy geweet dat die Here reeds `n plan in plek gehad het, om hierdie begeerte te kom vul.
Die werk by Kibwe Kids het die aand begin toe sy komberse van haar werkgewer, Plascon vir minderbevoorregtes wou gee. Sy is gelei na die pleegsorg-ma, wie op haar eie na talle van die kinders moes omsien. Die eerste vraag op haar hart was, “hoe kan ek haar bystaan?”
Die pleegsorg-ma wou graag op `n Dinsdagaand gaan koor oefen, maar sy kon nooit die kinders alleen los nie. Koen het dadelik haar gaping gesien.
Aan die begin was Kibwe Kids vir haar `n plek waarheen sy kon gaan, “om by die kinders te wees, sonder `n agenda,” maar dit het later begin voel asof sy vir hulle iets meer moes leer. Die gedagte het onnodige druk op haar vermoeëns geplaas, omdat sy nie `n gekwalifiseerde onderwyseres is nie.
Sy moes haar hart gaan ondersoek en is herinner aan die opdrag wat sy destyds by die Here ontvang het, wat lui, “..tend my sheep and love my children”. Sy onderrig die kinders op praktiese maniere met gebed, lofprysing, spelletjies en persoonlike interaksie wat sy eie vorm aanneem. Die klasse verskil elke week, soos die Here dit, vir die kinders op haar hart lê.
Vir haar is daar soveel blydskap en seën in die tyd wat sy met die kinders spandeer, sélfs nie eers die taalgrens kan haar onderkry nie. Meeste van die kinders kan nie Engels praat nie, maar dit het hulle nog nooit gekeer om hulle dank aan haar te bewys met `n handgeskrewe brieffie nie. “Ons bid gedurig saam en dit is altyd vir my `n seën as een van die kinders vir my die mooiste glimlag gee.”
Koen sê ons eie gemak moet nooit in die pad staan om ten volle vir die Koningkryk toegewyd te wees nie.
“Solank `n mens net uithouvermoeë het kan jy nie regtig weet wat die toekoms vir jou inhou nie, maar die Here sal jou wys watter pad jy moet stap.”
deur Liomee Vosloo